Meer oor CJe Studios

Click on a thumbnail to view a larger image. Click on the close button to close it.

Die ontstaan van "C J Entertainment and Production Studios"
As gesin is ons baie lief vir musiek. Net so lief vir onthaal ook. Vroeg in 2006 is ons lapa (wat ‘n gewilde kuierplek vir familie en vriende geword het) voltooi. Daar het egter nog so ‘n ietsie gekort: ‘n goeie klankstelsel, ook nie sommer net 'n stelsel nie. Ons het klanktoerustingwinkels besoek. Uiteindelik het ons by Oosthaven’s Musiek gekry wat ons wou hê. Steeds het daar egter iets gekort. Beligting. Laserligte, kolligte, gekleurde balle en nog wat, is gekry. Tot mikrofone vir karaoke-saamsing. Die toerusting het bly toeneem. Ek het al begin bekommerd raak oor waar al die toerusting gebêre gaan word.

Vroeg in 2007 het Jannie du Plessis by ons aangesluit. Jannie het saam met my seun Jurie grootgeword en skoolgegaan. Jannie het as kind reeds ‘n groot liefde vir sang ontwikkel en uitgeblink in skoolkonserte en sy stem het dus goed ontwikkel. Sy groot liefde is natuurlik country-musiek. Hy speel ook kitaar en dromme (tromme). Jurie weer, het reeds as sewejarige, graag die klawerbord bespeel. Hy speel ook kitaar en dromme (tromme). Die klawerbordklanke het egter sy hart gesteel. Hy verkies ligte musiek asook boeremusiek en country.

Maart 2007 sou ons een dogter trou. Skielik moes daar musiek in die stadsaal gemaak word. Raai wat? Nog klanktoerusting word aangekoop. Nou sommer ook ‘n Ibanez-akoestiese kitaar, Ibanez-baskitaar en ‘n Fender-elektriese kitaar. ‘n Stel Pearl-dromme (tromme) is ook tot die versameling toegevoeg. Onthou, aanstaande skoonseun Koos, is ook musikaal. Hy het reeds vantevore in boeremusiek-orkeste opgetree en hulle wil nou musiek maak  tydens die huweliksfunksie.

Hierna was ek regtig bekommerd. Die klanktoerusting het nou al enorme bedrae uit ons sak gejaag, en nie regtig weer fondse ingebring nie. ‘n Breinstorm het dus gevolg, met die slotsom: kom ons begin DJ. Goed. So gesê, so gedaan, maar eers moes al die nodige registrasies en dokumentasie afgehandel word voordat ons kon begin. Ek hanteer al die registrasies en dokumentasie, van beslote korporasie-stigting tot met SAMRO se registrasie en lisensiering.


GMD ST 0125728

Chris begin bou aan ‘n spesiale "musiek"-waentjie om die klanktoerusting te vervoer. Die waentjie word so ontwerp dat elke item net op sy eie plekkie inpas en nie kan rondskuif nie, om skade te voorkom.

Ook het ons reeds op hierdie stadium al ‘n hele aantal rekenaars, kameras en video-kameras. Steeds groei die toerusting en Chris, Jannie, Jurie en Koos stel dit op die proef om hul eie klank- en video-opname en verwerkings te doen. Nog ‘n aantal rekenaarprogramme verder begin dit al hoe beter gaan.

Nou was ek werklik bekommerd. Ons kan ‘n volledige studio op die been bring met al die toerusting waaroor ons beskik, (behalwe dat ons nie oor ‘n geskikte gebou beskik nie). Ek het my gedagtes hardop met almal gedeel. Nog voordat ek my oë kon uitvee, is die fondasies vir ‘n saal gegrawe en gegooi. Daar is klankdigte-kamers en ‘n verhoog op die planne ingewerk vir lewendige opnames.

Ondertussen groei ons musiekkring en word al wyer.

Ligging
Ons is relatief sentraal geleë in die Limpopoprovinsie, (Ou Noord-Transvaal) te Nylstroom (nou Modimolle) sowat ‘n uur se ry vanaf Pretoria, in ‘n rustige Bosveldomgewing. Ons beskik oor oornag- fasiliteite vir kunstenaars wat opnames by ons doen, en twee tot drie dae wil spandeer aan opnames.



Volgende bladsy: Ons Doelwit