Danie Jansen

My God gegewe sangtalent neem my sover terug as 1971 toe ek ‘n orkes begin het in Brits, toe nog ‘n baie klein dorpie.

My eerste album met die titelsnit "Twintig Goue Jare" sien die lig in 1983. In 1984 bereik Silent Partners, ‘n "Country Duet" met Karin Cowley, nommer 2 op "The Highveld Country Hit Parade" en kuier vir twintig weke op genoemde treffersparade. Die groep "Klawerjas", waarvan ek die stigterslid was se "Potjiekos Treffers" was  ‘n groot sukses in 1986. Ek sluit ook in dieselfde jaar aan by die SAP-Dansorkes.

‘n Tweede "Klawerjas"-album (Madelein/Hoeka Tjoeka) vaar baie goed in 1988. Intussen lewer ek landwyd optredes en ook verskeie konserttoere op die Suidwesgrens en  vir die Weermag se Troepe.

Gedurende 1988 lewer ek ses optredes in die country-program "Sing Country" wat op TV gebeeldsaai word.

Ek tree saam met, onder andere, Bles Bridges, Andre Schwartz, Steve Hofmeyr, Ken Mullen en Lance James op. My solo-album in 1991 "Iemand soos Jy" het groot byval gevind en met die vrystelling van "Daarom is dit Mooi" met ook "Goeiemôre" in 1994, word ek ‘n bekende stem toe lied vir ses weke lank elke oggend op Radio Jakaranda gehoor is!

Ook "Hello Lollipop" in 1996 vaar baie goed. "Hemelblou" en "Rose Rooi" word in 1997 vrygestel en dit neem my twee keer in dieselfde jaar na België, waar ek konserte en TV-optredes lewer  saam met Paul Severs (die skrywer van "Ek is verlief op Jou"). Ek ontmoet ook daar die talentvolle en pragtige Dana Winner!

My grootste sukses tot dusver was "Sewe Reënboë" wat in 1998 vrygestel is. In 2000 volg "Vir Jou" en in 2005 vind my dubbelalbum met die beste Elvis-liedjies, groot byval by die publiek.

Nou, op die rype ouderdom van 57 jaar, wil ek al die talent en waardering waartoe ek in staat is vir my Skepper teruggee en hoop om deur middel van my "Gospel CD" nie alleen vir God te verheerlik nie, maar om alle mense wat daarna sal luister, te laat besef hoe ongelooflik gelukkig ons is om Hom te ken en om op Hom te kan steun op ons lewenspad!

‘n Woord van dank, uit my hart, aan Chris en Christa Barnard vir hul volgehoue vertroue in my.

 Dankie!


Vorige bladsy: Jannie du Plessis
Volgende bladsy: Joey Lane